Skatermaters

 

Jy hardloop kinderlik rond,

tergend met jou skaterende

“whêla-kapêla!”,

voor my gevalle ooglede.

 

Die dag loop stadig aan,

want ek probeer water skep

met ʼn groot-gat visnet

en my gedagtes hol al agter

jou aan wat moeiteloos

dit laat reën met jou

bloedrooi strand-emmer.

 

In die aand kuier jou gedagte

meer gereeld by my

nostalgiese nagte

en soms raak ons gedagtes

en my hart

wil stop…

maar

dit gaan aan

want die aanraking was koud –

slegs ʼn warm gedagte.

 

Dit blyk ek moet liewers die visse,

wat ek met my net benader,

hou,

want al is die aanraking koud,

kan ek darem aan iets

vashou.

 

15-11-2017

Jonathan Malan

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui