My volle naam is Jonathan Johann Malan en ek is op 2 Augustus, 1998 in die Paarl gebore.

Ek is oorspronklik Engels en was op laerskool by Paarl Primêre Seunskool en het toe my hoërskoolloopbaan by Hoër Jongenskool Paarl deurgebring. My matriekvakke was Engels Huistaal, Afrikaans Huistaal, Wiskunde, Lewensorientering, Fisiese Wetenskappe, Lewens Wetenskappe, Geografie en Ingenieurs Grafika en Ontwerp. Ek het ‘n A-gemiddled en 5 onderskeidings vir my matriekjaar, 2016, behaal.

In my matriekjaar het ek die Kalahari Vasbyt, wat seker die moeilikste kursus vir ‘n tienerseun is ter wêreld, aangepak. Dit behels 18 dae saam met omtrent 40 ander manne tussen graad 10 en 12 in die bos in Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe. Ons doen strawwe fiksheid oefeninge elke dag, bungee van die Victoria Valle brug af, gaan “white water rafting” 37km af die Zambezi en sluit af met ‘n ±40km roetemars deur in die Sentraal Kalahari en word baie geleer oor die natuur en leierskap. Ek is toe gevra deur Oom Andries, hy het die Kalahari Vasbyt in 1987 gestig, om in 2017 en weer in 2018, as ‘n leier/hulp saam te gaan. Die Kalahari Vasbyt is baie na aan my hart en ek sal dit sterk aanraai vir enige seun wat sy grense wil verskyf en die avontuur van ‘n leeftyd wil ervaar. Oom Andries reël ook die Jiptoer wat ‘n Europa toer vir tieners is, ek is vanjaar saam met die toergroep as ‘n hulp en het dit vreeslik geniet en is baie dankbaar vir die geleentheid.

Oorspronklik het ek my oë op medies gehad maar is toe in die top 10% van die waglys geplaas, toe het ek besluit om ‘n Paramediese kursus te volg, maar het toe besluit om terug te keer Stellenbosch toe om met ‘n BSc in Molekulêre Biologie en Biotegnologie te begin met die hoop dat ek na my eerste jaar vir medies aanvaar sou word.

Ek het toe net die eerste semester deurgebring. In dié tyd het ek besef dat ek nie gelukkig sal wees met ‘n beroep in die wetenskappe nie en het intussen tyd begin dig om my malende gedagtes en emosies uit te druk en te verstaan. Na ‘n lang tyd van selfontdekking het ek besef dat ek baie graag ‘n hoërskool onderwyser wou word, ek geniet dit vreeslik baie om mense van allerhande dinge te leer. Ek is ook ontsettend lief vir Afrikaans, daarom wil ek Afrikaans gee. Ek het toe my studies gestaak en teruggekeer Paarl toe. Ek was eers vir ‘n maand in Europa en toe by die huis. Tans “tutor” ek hoër- en laerskool kinders en geniet dit baie. Vanjaar, 2018, begin ek ‘n BA graad in Sosiale Dinamika met die volgende vakke: English Studies, Afrikaans en Nederlands, Frans, Sielkunde en, Geo-Omgewingswetenskap.

My onderwysers was my anker op hoërskool, sonder hulle weet ek nie wat van my sou geword het nie. Hulle het my nie net geleer nie, maar ook gestimuleer om te wil presteer en hulle was altyd daar as ek ‘n skouer nodig gehad om op te huil. Hulle inspireer my elke dag om ‘n beter mens te wees en dit is as gevolg van hulle dat ek in onderwys wil gaan omdat ek graag so ‘n persoon vir iemand anders wil wees.

Ek skilder graag en geniet die kunste. Ek sing en speel ook kitaar. Ek geniet dit om te reis en om in die natuur te wees.