Feestyd op Strand

 

Verpak, ontpak, herpak

Wiele om asse, ratte verander en

Uiteindelik is die handrem verlig tot bo

 

Ons is hier.

 

Herken, erken, verken

Die silwer-goud strand strek sonder stop

En vissies, krappies en klippies bied veel genot

 

Vasgevang in plassies water

 

Die getye wieg Land in sy aardse krip

En tik-tik hom liggies om sy vorm te kontroleer

met sy branders wat net water gee en

gee en gee vanaf See na Land

 

Sonder om iets terug te verwag

 

Maar See besef nie dat Land en

Aarde een is nie

Dat Land homself moes uitgrawe en

begrawe om plek te maak vir See nie

Dat Land so diep moes oopskeur dat

See na Oseaan aan sy siel gekoppel is

om Lewe lewe te gee

 

Want Lewe word Dood word Lewe

 

Sien, nasien, hersien

Regte antwoorde, verkeerde vrae

Land, See na Oseaan, Aarde, Lewe en Dood

en mens

 

Vergeet die antwoord weens onmenslikheid

 

Menswees is die antwoord,

die vraag is irrelevant,

 

Want dis feestyd

Op Strand.

 

27-12-2017

Jonathan Malan

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui