Ék vra

vir hulle

 

Laat my vry in die antieke, steen strate van ou Pompeii,

sodat ek my misverstande, en dus versteekte, vrae in die

honger muurholtes soos plofstof kan plant dat hulle

eendag in ‘n enkele, onbetwisbare antwoord sal groei:

 

Ek spring van klip tot klip by die Jesus-tyd paaie af

en is skielik deur Apollo gegroet,

“Hoekom het jy hulle uitwissing nie voorspel nie?”, vra ek

 

My klipspringer skoene stuur my na Venus,

maar sy is nie daar nie,

“Was hulle te verlief en vasgevang met jou dol dade om Apollo se musiek te hoor?”, vra ek

 

My vlieënde voete vat my na Mercurius wat onverwags nog daar staan,

“Het jy agtergebly om seker te maak van hulle ondergang en

onder gaan?”, vra ek

 

Ek loop by ‘n lang, leë straat af, verby ‘n destydse tabernam,

nou dat ek verstaan, sien ek hulle –

bevry uit hulle vasgevange vorms –

en hulle dans, huil, speel, sing, skree, lag en lewe,

hulle lewe, maar hulle vra nie hoekom nie

 

Die klippies onder my voete word vinnig warm

en die lug begin vassit in hulle longe, hulle raak stil –

my alwetende antwoord is amper volgroei en reg om te oes

 

Ek hardloop na die muurholtes wat nou toegegroei is en

pleister my regteroor vas daarteen om elke rype, ware woord te pluk,

 

Ek hoor hulle en die grond skud,

my voete verloor hulle hewige houvas op die aarde en ek sweef

na bo.

 

 

04-08-2017

Jonathan Malan

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui