Die hemel brand ook

 

Die hemel trek toe met woer-woer wolke

nes ʼn bevreesde kind kop wegsteek onder ʼn kombers,

selfs die lewensgewende lig sluip weg vanuit die lug

dat liggame nie meer aan hul skadu’s geanker is nie.

 

Die wind se weer waai ʼn waas voor jou oë

en jy voel sy verlate asem by jou nek af gly,

jy trek ook toe met serpe, jasse en komberse

en keer huiswaarts, maar is op die verkeerde verdieping.

 

Die reën begin digby daal en die waas verdik,

skielik is dit hier soos ʼn sementtrok-vrag albasters op ʼn sinkdak

en die blits donder die aarde en gooi jou anker oorboord

en jy verdrink want jy soek stilte tussen verdowende oorfone.

 

Ons trap klei as dit reën, maar selfs klei

kan deur die Son as teerpad gemaak word,

dis die Sonskyn wat jou siel geruisloos verfris

en jou skadu op die vaste grond inbrand.

 

21-10-2017

Jonathan Malan

2 thoughts on “Die hemel brand ook

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui